Newton is ‘n skool van diversiteit. Ons glo dat elke kind belangrik is en ons as onderwysers strewe daarna om elkeen te help om sy/haar God-gegewe talente te ontdek en te ontwikkel.
Ons het soveel klein kunstenaars en opkomende sepiesterre in wording!
Kuns word ook as ‘n buitemuurse aktiwiteit aangebied volgens ouderdomsgroepe en hier word hulle blootgestel aan ‘n wye spektrum van kunsmediums en -tegnieke.
Newton neem ook elke jaar deel (van Gr. 1 – Gr. 7) aan die Noord-Kaap Kunsfees. Hier kan die opkomende akteurs en aktrises hulle uitleef met gedigte, prosa en ons gunsteling – die spreekkore waaraan elke graad deelneem.
Redenaars landswyd het die afgelope jaar ‘n nuwe en onbekende baadjie beklee. Alhoewel dit vir ons leerders vreemd, miskien onnatuurlik en baie anders was, is ons dankbaar dat ons leerders steeds die geleentheid gehad het om hierdie passie te kon uitleef.
Danksy passievolle en innoverende organiseerders, was daar verskeie platforme vir leerders gebied om deelname aan te moedig en het ons Newton leerders die geleenthede met albei hande aangegryp.
Ons leerders het onder meer aan die Oppie Tong Af kompetisie deelgeneem, wat ‘n lewendige aanlyn deelname was. Hierdie was werklik uniek vir ons almal en het die leerders beslis baie van hierdie ervaring geleer. Ons het ook deelgeneem aan die Radikale Redenaars asook ATKV kompetisies, waar leerders deur middel van ‘n voorafopgeneemde video inskrywing deelgneem het.
Al drie hierdie kompetisies was ‘n ervaring op sy eie en ons glo ons leerders het baie geleer en hieruit geneem. Tog sien ons almal vreeslik uit vir redenaars om weer sy ou baadjie te kan beklee, sodat leerders weer aan hierdie kompetisies kan deelneem in ‘n minder geisoleerde omgewing.
Juffrou Lizelle doen uitstekende werk vir ons Newton redenaars leerders.
Ook op musiek-gebied is Newton voor in die koor! Leerders word in skooltyd onderrig in ‘n verskeidenheid instrumente. Ons het ook ‘n Junior- en Senior koor en ons is trots om te sê dat daar ‘n hele paar Newton nagtegale gekies is om in die Kimberley Kinderkoor te sing.
Newton bied musiekonderrig aan in die volgende instrumente:
Koperblaas en perkussie: Mnr. Danie Roux
Kitaar: Mnr. Dillan van Wyk
Klavier, blokfluit en musiekteorie: mnr. Matthew van Wyk
Geskikte studente neem jaarliks aan eksterne eksamens deur Unisa deel.
Daar is drie kore in Newton. Twee junior kore: Leeu- en Tierkore, en die Kompetisie (senior) koor. Onder normale omstandighede oefen hierdie drie kore een keer per week waardeur hulle by verskillende koorfeeste en kunsfeeste optree.
Die skoolorkes (bestaande uit die blokfluit-, stryk- en koperblaasleerlinge van Newton) tree op tydens verskillende kunsfeeste, musiekaande en die einde van die jaar se Kerskonsert.
As gevolg van die Covid -pandemie word repetisies en optredes van die kore en orkes tot verdere kennisgewing uitgestel.
Slegs een kind het verlede jaar 'n onderskeid in die praktiese eksamens van Unisa gehad, aangesien die eksaminator baie streng was. (Caitlin Webber, 84% vir blokfluit graad 1). Die ander was in die hoë 70s. Die kinders het nog nie hierdie jaar hul eksamens afgelê nie, aangesien dit eers einde September geskeduleer is.
Hierdie jaar het ons twee studente wat die ererol in die teorieeksamens van Unisa behaal het.
(Jedidah Peens, 97% Musiekteorie graad 1) (David Peens, 95% Musiekteorie graad 1)